Die Metamorfose

Die Metamorfose
Oorspronklike titelDie Verwandlung
SkrywerFranz Kafka
TaalDuits
GenreFiksie
UitgewerKurt Wolff Verlag, Leipzig
Uitgegee1915

Die Metamorfose (Duits: Die Verwandlung) is 'n novelle wat geskryf is deur Franz Kafka en wat die eerste keer in 1915 gepubliseer is. Dit is een van Kafka se bekendste werke, en vertel die verhaal van die verkoopsman Gregor Samsa wat een oggend wakker word net om te vind dat hy op onverklaarbare wyse in 'n groot insek (Duits: ungeheures Ungeziefer, letterlik "monsteragtige ongedierte") omskep is, en daarna sukkel om aan te pas by hierdie nuwe toestand. Die roman is al druk bespreek deur literêre kritici, met verskillende interpretasies wat aangebied word.

Gregor Samsa word een oggend wakker net om te vind dat hy omskep is in 'n "monsteragtige ongedierte". Hy beskou die transformasie aanvanklik as tydelik en besin tydsaam oor die gevolge van hierdie metamorfose. Gregor is nie in staat om op te staan en die bed te verlaat nie, en besin oor sy werk as 'n reisende verkoopsman, wat hy as "tydelike en voortdurend veranderende menseverhoudings, wat nooit uit die hart kom nie" karakteriseer. Hy beskou sy werkgewer as 'n tiran, en sou vinnig sy werk verlaat, was dit nie dat hy die enigste broodwinner van sy gesin was nie en die skuld van sy bankrot vader afwerk. Sy kantoorbestuurder, wat oor sy afwesigheid verontwaardig is, daag op. Gregor probeer om met die bestuurder en sy gesin te kommunikeer, maar al wat hulle agter die deur kan hoor, is onbegryplike klanke. Gregor sleep homself moedig oor die vloer en maak die deur oop. Die bestuurder vlug uit die woonstel toe hy die getransformeerde Gregor sien. Gregor se familie is verskrik, en sy vader dryf hom terug in sy kamer in met dreigemente van geweld.

Met Gregor se onverwagte toestand word die gesin van hul finansiële stabiliteit ontneem. Alhoewel Gregor se suster Grete nou in afsku terugdeins van hom moet sy hom steeds kos gee, en vind hulle dat hy slegs verrotte kos kan eet. Gregor begin sy nuwe identiteit aanvaar en begin oor die vloer, mure en plafon kruip. Nadat sy Gregor se nuwe tydverdryf ontdek het, besluit Grete om van die meubels te verwyder om Gregor meer ruimte te bied. Sy en haar ma begin meubels verwyder, maar Gregor vind die optrede uiters ontstellend. Hy probeer desperaat om 'n besonder geliefde portret van 'n vrou wat in 'n pelsjas geklee is te red. Sy moeder verloor haar bewussyn by die aanskouing van Gregor wat aan die beeld vasklou om dit te beskerm. Terwyl Grete haar na haar ma haas om haar by te staan, volg Gregor haar en word beseer deur 'n medisynebottel wat op sy kop val. Sy pa keer terug huis toe van die werk af en slinger appels na hom. Een van die appels sit op 'n sensitiewe plek in sy rug vas en wond hom ernstig.

Gregor ly 'n paar weke aan sy beserings en neem baie min kos in. Hy word toenemend deur sy familie verwaarloos en sy kamer word weldra aangewend as bergplek. Die gesin neem drie huurders in om die finansiële las te verlig. Die skoonmaakster verlig Gregor se isolasie deur sy deur oop te hou tydens die aande wat die huurders buite eet. Eendag word sy deur oopgelaat, ondanks die teenwoordigheid van die huurders. Gregor, aangetrek deur Grete se vioolspel in die sitkamer, kruip uit sy kamer en word raakgesien deur die niksvermoedende huurders, wat oor die onhigiëniese omstandighede van die woonstel kla en hul huurkontrakte opsluit opsê. Grete, wat nou moeg is om vir Gregor te sorg en weldra tot die besef van die las van sy voortbestaan op elkeen in die gesin kom, deel haar ouers mee dat hulle van "dit" ontslae moet raak, by gebrek waarvan hulle almal geruïneer gaan word. Gregor, wat begryp dat hy nie meer welkom is nie, sterf voor die volgende sonsopkoms van hongerte. Die verligte gesin neem 'n tremrit na die platteland en besluit om 'n kleiner woonstel te betrek om geld te bespaar. Tydens hierdie kort reis besef mnr en mev. Samsa dat ondanks die feit dat Grete deur 'n bedroewende tyd is en dat dit haar swaar getref het, sy opgegroei het na 'n mooi en goedversorgde vrou, wat haar ouers daaroor laat nadink om vir haar 'n hubare man te vind.


Developed by StudentB